Die Redakteurs
Beeld: Mnr Barnard Beukman Volksblad: Mnr Gert Coetzee Netwerk24: Me Henriëtte Loubser
Menere Beukman en Coetzee en Me Loubser,
WILDSVLEIS IS GESOND: GENIET DIT!
WRSA spreek hiermee sy misnoeë uit met die feit dat ons organisasie, as verteenwoordigers van wildboere (dus produsente van wildsvleis) nie genader is vir enige insette in die artikel wat op 22 April 2020 in Beeld en ander koerante verskyn het nie. Na aanleiding van die artikel wat verwys het daarna dat die EMS Foundation ’n versoek aan ministers gerig het om die eet van wildsvleis te verban, het WRSA die EMS se prokureursbriewe aan die ministers soos beskikbaar op hul webtuiste, deeglik bestudeer.
Dit blyk dat die EMS Foundation se redes vir die versoek aan die ministers om die eet van wildsvleis te verban, meestal op aannames en gerugte gebaseer is. Dit is nie ’n voldonge feit dat die Corona-virus se oorsprong by ’n mark in Wuhan was en dat dit deur wilde diere veroorsaak is nie. Inteendeel, daar is tans ’n hewige debat tussen wetenskaplikes oor die werklike oorsprong van die virus.
Daar is inderdaad baie min bewyse dat dierewelsyn ’n invloed het op voedsel- of vleisveiligheid, soos die EMS Foundation die ministers wil laat glo. In die skrywe word daar onder andere verwys na die geval waar ’n tier in die VSA met die virus besmet is. Wat hulle egter nie noem nie, is dat die tier nog geen mense besmet het nie. Plaaslik en internasionaal doen regerings hul bes om, uit ’n openbare gesondheids- en veiligheidsoogpunt, beter beheer toe te pas om die oordrag van soönotiese siektes te beperk met inisiatiewe soos byvoorbeeld die One Health-program.
WRSA wil egter alle wildsvleis verbruikers die versekering gee dat die produsering en prosessering van wildsvleis wat te koop is op ons winkelrakke, streng gereguleer word. Dit is alreeds ’n prioriteit, nie net by Suid-Afrikaanse regeringsdepartemente nie, maar ook by die wildboere as produsente, om te verseker dat alle vleis wat in die voedselketting kom, veilig is vir menslike verbruik. In Suid-Afrika word wildsvleis al oor eeue heen geëet; dit wissel van biltong en droëwors tot potjiekos en gebraaide filetskywe. Tot dusver is ons nie bewus van een persoon wat oorlede is as gevolg van die inname daarvan nie.
WRSA ondersteun egter enige aksies deur regerings dwarsdeur die wêreld om die onwettige handel in wildsprodukte, hetsy lewend of dood, te staak. Onwettige handel moet egter nooit met wettig gereguleerde handel verwar word nie.
Vriendelike groete,
Mev. Adri Kitshoff-Botha
WRSA: Hoofuitvoerende Beampte